Dit voel asof dit net gister was toe ek as ’n graad 8-leerder vir die eerste keer deur die groot blou hekke van Goudveld-Hoërskool gestap het. Ek was vol verwagtinge – en Goudveld het elkeen daarvan oortref.
Goudveld is ’n skool waar elke leerder die geleentheid kry om te groei – of dit nou op die sportveld, in die klaskamer of op kulturele gebied is. Hier het elke leerder ’n plek, en elke leerder maak saak.
Dit is ook ’n plek waar ek my geloof vryelik kon uitleef, sonder om ooit daaroor skaam te wees.
Nou, in my matriekjaar, voel ek nie hartseer of bang om die grootmenswêreld te betree nie, want Goutieland het my toegerus met die regte gereedskap om met selfvertroue my lewenspad te begin stap.
As ek terugkyk op die afgelope vyf jaar, kan ek nie anders as om met trots te glimlag nie. Trots dat ek deel kon wees van só ’n besondere gemeenskap, met toegewyde en merkwaardige opvoeders wat werklik omgee.
Die herinneringe en lewenslesse wat ek by Goudveld geleer het, sal ek vir altyd koester.
Ek wil julle los met Prediker 3:1 “Daar is ’n tyd vir alles, en ’n seisoen vir elke saak onder die hemel.” Geniet hierdie seisoen!
By Goudveld leer ’n mens gou dat ’n skool veel meer as net klaskamers en handboeke is. Dis ‘n plek waar vriendskappe gebou word, waar drome begin vorm aanneem, en waar jy leer wie jy regtig is.
Hier het ek my stem gevind — nie net op die verhoog of sportveld nie, maar ook as jong volwassene wat my plek in die wêreld leer ken.
Elke oggend stap ek met trots deur die hek, want ek weet ek is deel van iets groter. Iets wat mens se hart vul met ‘n trots wat nie net op rapportkaarte staan nie, maar in herinneringe en lewenslange lesse.
Goudveld is en bly vir my ’n huis weg van die huis — ‘n plek waar ek altyd welkom sal wees.
In die verwesenliking van uitmuntende onderwys en opvoeding onderneem ons om ons waardes van Geesdrif, Omgee, Uitnemendheid, Trots, Integriteit, Respek en Selfissipline uit te leef en uit te bou.
Goudveld-Hoërskool streef om ‘n toonaangewende waardegedrewe Afrikaansmedium skool in die Goudveld en die Vrystaat te bly. Ons wil dit bereik deur elke leerder toe te rus vir verdere studie- of werksgeleenthede sodat hy/sy ons skool met ‘n toekomsverwagting kan verlaat.
Geesdrif, Omgee, Uitnemendheid, Trots, Integriteit, Respek en Selfdissipline
Goudveld-Hoërskool het altyd akademiese uitnemendheid as sy prioriteit gestel. Dit is, en sal altyd, die skool se belangrikste fokuspunt wees. Ons onderwysers is goed opgelei en werk regtig uitsonderlik hard.
Ons glo daaraan dat ons leerder gebalanseerd moet lewe, daarom het ons ‘n uitgebreide sportprogram wat in elke sportliefhebber se kraal sal pas. Ons leerders presteer op hoë vlak en ons kompeteer met die beste skole in die provinsie. Selfs op nasionale vlak is verskeie van ons leerders bedrywig en presteer goed.
As top Afrikaanse skool is ons kultuuraktiwiteite inherent tot ons Afrikaanse karakter en opleiding
Goudveld-Hoërskool is die plek om jou ingebore kreatiewe vermoëns uit te leef en te ontwikkel deur ons uitstekende Musiek Akademie.