Slaan oor na inhoud
057 352 7187 Ma.–Do. 07:15 – 15:00 · Vr. 07:15 – 14:00
Goudveld Hoërskool · Welkom

Wie is ons

Leer ons ken.

Ons Hoofleiers

Boodskappe vanaf ons hoofleiers

Twee stemme uit die matriekjaar, oor wat dit beteken om 'n Goutie te wees.

Hoofdogter Nigella Siebert

Welkom by Goudveld Hoërskool, 'n plek wat vir baie van ons meer as net 'n skool geword het.

As hoofdogter voel ek regtig geëerd om deel te wees van hierdie skool se storie. Goudveld is waar ons leer om hard te werk, om trots te wees op wie ons is, en om mekaar op te bou in alles wat ons doen.

Ja, ons werk hard met akademie, sport en kultuur, maar wat hierdie skool vir my besonders maak, is die alledaagse goed: die lag in die gange, die ondersteuning van onderwysers wat regtig omgee, en die vriendskappe wat hier gevorm word en saam met jou groei.

Ons is nie net leerders wat elke dag klasse bywoon nie, ons is deel van 'n Goudveld-familie. 'n Familie waar jy leer om jouself te wees, maar ook om ander te respekteer en saam te werk.

Ek hoop elke leerder wat hier instap, voel dat hulle behoort, dat hulle waarde het, en dat hulle hier die kans kry om hul beste self te word, op hul eie manier en in hul eie tyd.

Dit is 'n skool vol trots, tradisie en hart, en ek is dankbaar om deel daarvan te wees.

Hoofseun Tshepo Manyene

Wanneer mense my vra hoe dit is om 'n Goutie te wees, sê ek altyd: dit is nie net 'n skool nie, dit is 'n tuiste. Goudveld Hoërskool is 'n plek waar talent gekweek word, waar drome vlerke kry en waar harde werk gevier word.

Maar die ware krag van ons skool lê nie in die geboue of die trofeë nie. Dit lê in ons mense. Ons is nie net groepe leerders en onderwysers nie, ons is 'n familie.

Hierdie Goudveld-familie dra 'n unieke warmte met sê saam. Dit is 'n gemeenskap wat mekaar ondersteun as dit moeilik gaan, wat saam feesvier as ons wen, en wat vir mekaar omgee op 'n manier wat jy nêrens anders kry nie.

In hierdie skool is jy nooit alleen nie. Die warmte van ons gemeenskap omvou jou van jou heel eerste dag as 'n groentjie tot die dag wat jy as matrikulant groet.

"Wees sterk en vol moed! Moenie bang wees nie en moenie vir hulle skrik nie, want dit is die Here jou God wat saam met jou gaan; Hy sal jou nie verlaat of jou in die steek laat nie. Dit is die Here wat voor jou uit trek; Hy sal self met jou wees; Hy sal jou nie verlaat of jou in die steek laat nie; moenie bang wees en moenie skrik nie."

Deuteronómium 31:6 en 8

Ek wil julle graag hiermee los.

Meer oor ons

Waarvoor ons staan

Missie

In die verwesenliking van uitmuntende onderwys en opvoeding onderneem ons om ons waardes van Geesdrif, Omgee, Uitnemendheid, Trots, Integriteit, Respek en Selfdissipline uit te leef en uit te bou.

Visie

Goudveld-Hoërskool streef om 'n toonaangewende waardegedrewe Afrikaansmedium skool in die Goudveld en die Vrystaat te bly. Ons wil dit bereik deur elke leerder toe te rus vir verdere studie- of werksgeleenthede sodat hy of sy ons skool met 'n toekomsverwagting kan verlaat.

Waardes

Geesdrif, Omgee, Uitnemendheid, Trots, Integriteit, Respek en Selfdissipline.

  • Geesdrif
  • Omgee
  • Uitnemendheid
  • Trots
  • Integriteit
  • Respek
  • Selfdissipline
Ons Goudveld-familie

Oomblikke uit ons daaglikse lewe

Fotos uit die gange, saal, sportvelde en kultuurgeleenthede.

Kom kuier

Sien Goudveld self

'n Opedag is die beste manier om die skool, personeel en gees eerstehands te beleef.